|
Hou jy dalk nie so baie van leer / studeer nie?
Tog wil jy graag goeie punte behaal? As jou antwoord "ja" op die bogenoemde vrae is, lees asseblief die volgende paar bladsye aandagtig deur.
|
IS JY GEWILLIG?
Jy is die grootste gedeelte van die dag besig met skoolwerk. Om die grootste gedeelte van die jaar minstens ses uur per dag op die skoolbanke te sit, kan voorwaar uitputtend wees! Wanneer jy nog vir die res van die dag jou huiswerk moet doen, buitemuurse aktiwiteite moet bywoon en aandag aan ander mense moet gee, is dit dalk tyd dat jy jou studies soos 'n bestuurder van 'n baie suksesvolle besigheid begin bestuur.
Bestuurders van suksesvolle ondernemings het veral twee eienskappe wat die onderneming se sukses bepaal:
Die bestuurder se bereidwilligheid om nuwe metodes en tegnieke te gebruik.
Die bestuurder se bereidwilligheid om te verander.
As jy suksesvol wil wees in jou studies en lewe, het jy dieselfde vaardighede nodig:
Eerstens moet jy bereid wees om jou verkeerde studiemetodes en gewoontes te verander.
Tweedens moet jy bereid wees om jou studies en skoolwerk deel van jou alledaagse roetine te maak en seker te maak dat jy gereeld by jou studies uitkom.
|
WAAROM MOET EK SKOOLGAAN EN STUDEER?
Kennis is mag! Suksesvolle mense het gewoonlik 'n baie sterk fondament van kennis waarop hulle lewens gebou word en waarvolgens hulle keuses en besluite neem. Sal jy 'n goeie keuse kan maak oor 'n sportsoort waaraan jy wil deelneem as jy niks van die sport weet nie? Skoolvakke bevat iets van alles wat jy in die beroepswęreld sal teëkom. Dit vorm dus die basis waarop jy eendag jou beroepskeuse sal maak. Hoe meer jy van jou skoolvakke weet, hoe beter keuse sal jy oor jou beroepsrigting maak.
Skoolvakke is die boustene van verdere studies Skoolvakke is die boustene van baie studierigtings wat jy dalk later sal wil volg. Dit is dus gevaarlik om nou al sekere vakke af te skryf omdat jy dit "tog nie nodig sal hę nie".
Skool en studies skep die gewoonte om te werk Wanneer jy na die indeling van jou dag kyk, sal jy merk dat die tyd wat jy aan skoolgaan en aan jou studies afstaan, ongeveer agt ure van jou dag in beslag neem. Die gemiddelde werker werk ongeveer agt ure per dag en 45 ure per week. Jou brein en jou liggaam raak dus nou al daaraan gewoond om minstens agt ure per dag produktief en konstruktief te dink!
|
KONSENTRASIE Een van die grootste redes waarom leerders sukkel om te studeer, is die gebrek aan konsentrasie! Wanneer jy wil studeer, is dit uiters belangrik dat jou gedagtes nie dwaal nie. Daar is verskeie redes waarom jou gedagtes dwaal wanneer jy eintlik moet studeer:
Dinge wat jou aandag aflei en jou gedagtegang onderbreek: stemme, bewegings, 'n telefoon wat lui, harde musiek, ens.
Gebrek aan opleiding en oefening: konsentrasie is 'n vaardigheid wat aangeleer en geoefen moet word
Gebrek aan motivering en belangstelling: jy hou nie van die vak nie, vaar nie goed daarin nie en wil dit nie leer nie; sonder belangstelling sal jy nooit kan konsentreer nie
Oorlading van jou brein: jy probeer te veel inligting in te min tyd leer
As jy werklik goed wil konsentreer moet jy die volgende doen:
Verdeel jou werk in kleiner dele en moenie alles op een slag probeer leer nie.
Studeer vir 20 - 30 minute en rus dan vir 10 minute, herhaal weer.
Toets jouself kort-kort oor die werk wat jy reeds geleer het om seker te maak dat jy dit kan onthou.
Op hierdie manier gee jy jou brein die geleentheid om 'n ruk te konsentreer en inligting in te neem en om daarna te ontspan terwyl die inligting vasgelę word.
Die belangrikste aspekte van konsentrasie is:
Selfdissipline: bly by 'n vasgestelde studierooster wat jy elke middag volg.
Motivering: wat presies wil jy bereik? Laat dit jou motiveer!
Belangstelling: probeer belangstel in die vak wat jy moet leer.
Beheer: probeer jou aandag doelbewus op jou studies fokus.
Konsentrasie kan verbeter word deur die volgende:
Skep vir jou 'n "studeer vriendelike" studie-omgewing waarin jy kan leer.
Sorg dat daar genoeg lug en lig is waar jy moet studeer.
Skakel geraas en veral musiek uit wanneer jy moet studeer.
Beplan en verdeel die werk wat gedoen moet word.
Stel vir jouself doelwitte wat bereik moet word.
Studeer in tye wanneer jou energievlakke op hul hoogste is.
|
SKOOL … O … LIEWE SKOOL!
Dit is belangrik dat jy elke dag skool toe gaan. Ja, dit is soms nie lekker nie, maar jou vriende maak dit soms die moeite werd, dan nie?
Gereelde skoolbesoek is belangrik vir goeie akademiese prestasie. Dit word ook vereis dat jy vir jouself sę dat jy jou beste gaan gee in die klas en aandagtig gaan luister en deelneem aan die klasbesprekings. Vertel jou vriende van jou voorneme, dit sal voorkom dat hulle jou steeds pla in die klas.
Maak kort aantekeninge van dit wat die opvoeder/es in die klas bespreek. Skryf die dinge neer wat jy nie verstaan nie en vra dan die opvoeder/es om dit aan jou te verduidelik.
Vra die opvoeder/es watter werk is belangrik vir die toets of die eksamen. As hy / sy dan wenke gee, skryf dit gou neer voor jy dit vergeet!
Skryf jou huiswerk, toetse en opdragte in jou huiswerkboek neer. Dit sal verseker dat jy jou opdrag op die regte datum ingee en jou werk betyds kan begin leer vir die toets. Sodoende kan jy ook elke dag goed voorbereid wees vir elke vak.
Lees weer die middag die werk wat julle gedoen het, deur. Jou brein wil graag die inligting wat jy in die klas gehoor het, ordelik stoor, dan sal jy dit ook later, wanneer jy moet leer, makliker kan onthou!
Wees selfstandig en probeer eerder self 'n antwoord op 'n probleem uitwerk as om dit by 'n maat te kry. Hy / sy gaan nie altyd daar wees vir jou nie en gaan beslis nie die helfte van sy salaris eendag vir jou gee nie. Leer dus nou al om self te werk!
|
BY DIE HUIS
Die plek waar jy studeer is van die grootste belang. Rig vir jou 'n aangename studieplek in, sonder enige iets wat jou konsentrasie kan verbreek en jou aandag kan aftrek. Maak nou 'n gewoonte daarvan om al jou skoolwerk by hierdie studieplek te doen.
Stel aan die begin van elke kwartaal 'n studierooster op waarvolgens jy elke middag en aand van die week studeer. Deel die tyd in soos reeds genoem en sorg dat jy ten minste twee ure elke middag by jou skoolwerk uitkom. Deel meer tyd in vir die vakke waarmee jy probleme het. As jy nie huiswerk het nie kan jy hierdie tyd gebruik om opsommings te maak of om solank te begin leer vir volgende week se toets. Probeer ook om nie weeksaande uit te gaan nie. Saterdagaand is nie so ver nie! Versoek jou maats vriendelik dat hulle nie by jou moet kom kuier in jou studietyd nie.
|
STUDIEMETODES
'n Suksesvolle leerder maak gebruik van 'n studierooster en die regte studiemetodes ten einde vinniger te leer, meer georganiseerd te lewe en ook beter punte te behaal. Die sukses van jou studiemetodes hang van die volgende af:
houding
konsentrasie
herhaling
Houding
Onthou dat jy 'n keuse het of jy wil studeer of nie.
Wil jy graag goeie punte behaal?
Wil jy meer onthou?
Wil jy suksesvol wees?
Is jy bereid om te leer?
DOEN DIT DAN MET JOU HELE HART!
Konsentrasie Reeds bespreek.
Herhaling Wanneer jy studeer, kan jy verskillende studiemetodes gebruik om jou studeerwerk te herhaal. Om seker te maak jy het die werk goed onder die knie, moet dit ten minste 5 - 6 keer herhaal word voordat jy gaan toets of eksamen skryf. Voorbeelde van studiemetodes:
opsommings
SQ3R
kolomsisteem
breinkaarte
stories, ens. Jy kan jou vakopvoeder/es raadpleeg oor geskikte studiemetodes vir sy / haar vak.
|
TOETSE EN EKSAMENS
Baie leerders se eksamenvrees is een van die grootste struikelblokke waarom punte nie na wense is nie. Eksamens en toetse verg die regte voorbereiding. Baie kinders se punte word benadeel deur die feit dat hulle nie werklik weet hoe om vir 'n toets of eksamen voor te berei nie. Hoewel hierdie kinders ure voor hulle boeke deurbring, behaal hulle nie die punte wat hulle graag sou wou nie. 'n Bose kringloop ontstaan wanneer jy alreeds, voor jy begin leer het, so gespanne is dat jy nie kan leer nie, en ook later weens spanning nie in die toets of eksamen kan dink nie.
Hier volg 'n paar wenke om jou te help om alle toetse en eksamens voorbereid en met selfvertroue aan te pak:
Maak seker dat jy weet waaroor die toets of eksamen handel Vra voor die tyd die opvoeder/es wat die inhoud van die toets of eksamen behels. As jy weet wat gevra gaan word, sal jy weet wat om te leer en wat om nie te leer nie! Maak seker dat jy al jou aantekeninge en boeke het en dat werk ingehaal is wat moontlik weens afwesigheid agterstallig geraak het.
Beplan vir tyd om te studeer Leer altyd met 'n horlosie byderhand, sodat jy by jou studierooster kan bly. Skeduleer jou werk op so 'n wyse dat jy elke dag vir jou toetse en eksamen leer en nie net die aand voor die tyd nie. Moenie uitstel nie, die werk raak net meer en meer.
Voorbereiding Soek vorige vraestelle of toetse en werk dit deur. Kyk hoe die opvoeder / es die vrae gevra het en watter soort vrae gevra is. Maak seker dat jou aantekeninge, opsommings, ens. lank voor die tyd reeds reg is. Organiseer jou werk en werkplek sodat jy jou volle aandag aan jou studies kan gee. Verander jou prioriteite. Bestee baie tyd aan jou studies, jy kan weer in die vakansie gaan fliek en kuier saam met jou vriende. Luister in die klas. Opvoeders gee dikwels kort voor die eksamen wenke. Luister mooi daarvoor.
Een dag voor die tyd Een dag voor die tyd behoort jy al jou werk reeds te ken! Moenie die aand voor die tyd nog nuwe werk leer nie. Toets jouself en hersien werk waaroor jy nie seker is nie. Gaan slaap vroeg en slaap genoeg!
Die dag wanneer jy toets of eksamen skryf Wees fisies en emosioneel gereed om jou toets of eksamen af te lę. Moenie stimulante neem nie. Maak seker dat jy die regte skryfbehoeftes saamneem. Neem 'n horlosie sodat jy die tyd kan dophou. Daag vroegtydig by die toetslokaal of eksamenlokaal op. Leer die vorige dag al klaar. Moenie dat ander kinders jou deurmekaar maak nie.
Skryf jou toets of eksamen Haal diep asem en ontspan. Sit al jou skryfbehoeftes voor jou op die tafel neer. Fokus op die werk wat jy gaan skryf. Luister na al die instruksies wat gegee word. Lees die hele vraestel vinnig deur voordat jy begin skryf. Beplan jou tyd! Lees die vrae deeglik deur voordat jy antwoord. Beantwoord al die vrae, selfs al is jy nie seker of dit reg is nie. Skryf netjies en leesbaar. Hersien jou vraestel na die tyd. Kyk of jy reg genommer het, of jou naam op is, ens.
|